



2008 Report by Caravan & Outdoor Life

READ HERE !
Skou bied álles vir jou vakansie Beeld se Vakansieskou, in samewerking met Holidaymakers Expo, word van 15 tot 17 Februarie op die Gallagher-landgoed, Midrand, gehou. Ongeveer 300 uitstallers bied ’n groot verskeidenheid vakansie-opsies en avonture aan. Die Vakansieskou word vanjaar vir die derde keer aangebied. ’n Mens kan inligting kry oor oorde, toerisme-dienste, toerusting en bykomstighede vir vakansie. Vanjaar se skou het meer uitstallings as in die verlede.
“Besoekers sal talle opsies kry oor plekke naby en ver. Die Vakansieskou het iets vir almal,” sê Gavin Rheeder, bemarkingsbestuurder van Beeld. “Die grootste aantrekking is dat ’n mens ’n vakansie goed kan beplan. As jy die skou bywoon, kan jy vroeg reeds aan jou vakansie begin beplan en kan jy bekostigbare vakansie-opsies kry.” Produkte sal ook op die skou bekend gestel word en heelwat pryse is in die spel. Die waarde van die hoofprys is sowat R100 000 – ’n Jurgens-Ci-woonwa wat toegerus is deur Howling Moon en Campworld.
“Beeld-lesers kan voordeel trek omdat Beeld aan hulle inligting verskaf oor wat aangebied word lank voordat jy deur Gallagher se hekke loop,” sê Rheeder. “Een van die grootste voordele is dat Beeld se Vakansieskou gehalte-besoekers lok wat tot goeie verkope lei.”
Die skou maak dit vir verbruikers moontlik om honderde vakansiebestemmings en -aktiwiteite onder een dak te besigtig. Dit wissel van kampering, woonwaens, 4x4-uitstappies en safari’s tot kusoorde en oorsese reise. Daar is reisbykomstighede, verblyf, wiele, aktiwiteite, publikasies, klubs en dienste. Boonop kan ’n mens amper enigiets wat met vakansies verband hou op die skouvloer koop. Besoekers kan ook inligting kry oor aktiwiteite soos warmlugballonritte, casino’s, voetslaanplekke, bergklim, voëlbesigtiging, dieretuine, kultuurdorpies, parke, botaniese tuine, treinreise, safari’s, gesondheid en skoonheid, plekke om inkopies te doen en meer.
Vakansiedienste soos toeroperateurs, nasionale parke en toerisme-owerhede (internasionaal, nasionaal, streek en plaaslik) sal verteenwoordig wees. Toerisme-owerhede sal inligting oor vakansiebestemmings verskaf. Internasionale bestemmings is verteenwoordig. ’n Mens kan toer- en verblyfinligting oor al dié bestemmings op die skou kry. Inligting oor plaaslike en internasionale oorde, lodges, wildreservate, tyddeel-opsies en gastehuise sal uitgestal word. Meer inligting oor publikasies en klubs wat met vakansies te doen het, sal hier verkry kan word.
Vir diegene wat graag kampeer, sal “huise op wiele”, woonwaens en ’n groot Verskeidenheid sleepwaens besigtig kan word. Toebehore soos kampeergereedskap, tente, 4x4-toebehore, vakansieklere en -speelgoed sal ook hier gekoop kan word.
Die skou is Vrydag 15 Februarie van 10:00 tot 18:00; Saterdag 16 Februarie van 09:00 tot 18:00; en Sondag 17 Februarie van 09:00 tot 17:00 oop. Toegang is R30 (volwassenes), R15 (studente en pensioentrekkers) en gratis vir kinders onder 7 jaar. Besoekersparkering kos R10.
Robertson het baie om die lyf Robertson het die laaste jare bekendheid verwerf vir die goeie wyne wat in dié omgewing gemaak word.
Besoekers wat van die streek se wyne op die proef wil stel, kan uit 45 wynkelders kies. So ’n uitstappie kan ook besoeke aan die streek se wynboetieks en kunsgalerye insluit. Die Robertson-toerismekantoor sal ’n stalletjie by die Beeld-vakansieskou hê en hier kan besoekers meer inligting kry oor die baie ander aktiwiteite en besienswaardighede wat dié streek bied.
Van hulle is die Birds Paradise (0 023 626 3926) met 260 hokke vol eksotiese voëls, ape, lamas, krokodille, ’n dam met watervoëls en ’n koffiewinkel wat ligte maaltye en koek bedien. Daar is ook stap- en bergfietsroetes, kano- of bootuitstappies op die Breederivier, hengel en die Klipdrift-brandewynhuis waar jy kan brandewyn proe en ontbyt of middagete kan geniet.
By die dorp se museum (0 023 626 3681) kan besoekers meer oor die geskiedenis van Robertson en sy mense te wete kom. Liefhebbers van argitektuur sal die Victoriaanse en Georgiaanse geboue waardeer en daar is ’n staproete en boekies hieroor beskikbaar. Mense wat belang stel om te sien hoe die proses werk om olyfolie te maak, kan vooraf bespreek vir ’n toer by Olyfberg (0 073 267 4685). Natuurliefhebbers kan die Sheilam-kaktustuine (0 023 626 4133) besoek, waar daar meer as 2 000 variëteite van kaktusse en aalwyne is. Besoek ook die Pat Busch-natuurreservaat (0 023 626 2033) vir ’n wildbesigtigingsrit in ’n oop voertuig. Op so ’n uitstappie sal jy fynbos sien en die toer sluit ’n besoek aan die Rusticus-boetiekwynkelder in.
Vir diegene wat op soek is na geestelike vervulling is daar die Dharma Boeddhistiese Sentrum (0 023 626 3515) of Soekershof (0 023 626 4134), met een van die grootste labirinte in die wêreld.
Kontak die toerismekantoor by 0 023 626 4437 of besoek www.robertsonr62.com.
Verkyk jou aan die Vrystaat Vir baie mense het die Vrystaat ’n unieke bekoring – van die plat koringlande in die noorde tot by die eienaardige rotsformasies van die berge in die suide.
Jare lank was dié provinsie vir baie vakansiegangers slegs ’n deurgangsroete na die Kaap, KwaZulu-Natal of Lesotho. Maar deesdae moet die Vrystaters maar, soos die Kapenaars, vir lief neem met vreemdelinge wat hul vakansies hier kom deurbring.
Daar is baie om te doen in die Vrystaat – van kunsgalerye en restaurante besoek in Clarens, tot na twee van die Groot Vyf gaan soek in die Willem Pretorius-natuurreservaat, of bootry op die Allemanskraaldam.
Vir besoekers wat laasgenoemde verkies, is daar verblyf by onder meer Aldam Estate, waar gesinne van tot ses mense in chalets met ’n uitsig oor die dam kan bly. Entoesiastiese kampeerders is ook nie uitgesluit nie. Vir hulle is daar 85 gedienste staanplekke in die woonwapark. Verskeie aktiwiteite soos tennis, netbal, trampolienspring, swem of gly in die supertube kan kinders ’n hele vakansie lank besig hou. Bring net jou eie kano, seiljag of jetski en hengeltoerusting saam as jy die dam ten volle wil benut. Kajakke is te huur. Wildbesigtiging kan in die wildreservaat gedoen word, net ’n klipgooi ver. Vir geskiedenis-foendies is daar die nabygeleë Sandriviermonument, Le Goya-ruïnes of die Voortrekkermonument in Winburg. Daar is meer inligting by www.aldamestate.co.za beskikbaar.
As jy wel op pad Kaap toe is, maar vir ’n dag of wat wil rus, is die Gariepdam die ideale uitspanplek. Slegs 200 km suid van Bloemfontein, grens dié grootste dam in die land aan die Gariepdam-natuurreservaat, tuiste van verskeie bokspesies soos die Kaapse bergkwagga. Die dam self is ’n paradys vir watersportentoesiaste. Daar is ’n restaurant, supermark en vele aktiwiteite beskikbaar. Besoek hul stalletjie by die skou of kry meer inligting by www.foreversa.co.za/gariep.
En as jy besluit jy hou so baie van die Vrystaatse berge dat jy sommer jou eie plekkie daar wil koop, gaan maak ’n draai by Eaglewood Mountain Resort, 20 km van Bethlehem af op die Fouriesburg-pad in die majestueuse Witteberge. Daar is meer inligting oor beleggingsgeleenthede by www.kwano.co.za/kwano_Eaglewood.htm en by die vakansieskou.
Die Golden Gate-Hoogland- Nasionale Park is een van die Vrystaat se bekendste bakens.
Geniet die lekker lewe in Limpopo Limpopo is een van die gewildste vakansiebestemmings in Suid-Afrika X nie net vir plaaslike inwoners nie, maar ook vir oorsese besoekers wat dié provinsie besoek om die Groot Vyf te kom sien.
Die provinsie is sterk verteenwoordig by vanjaar se vakansieskou deur bekende bestemmings en oorde soos Sondela, Tshipise, Bela-Bela (Warmbad), Weesgerus, Phalaborwa Safari’s, Rock Lodge, Hoedspruit, die Impala Inn, Savanha Resorts, Klein Kariba en Mabalingwe. Die meeste van dié plekke het nie veel bekendstelling aan die publiek nodig nie, maar vir die oningeligtes is hier ’n paar foto’s om as voorsmakie te dien van wat in dié provinsie op jou wag.
Gaan besoek gerus ook die onderskeie stalletjies by die skou.
Hou luislang vas by forum se stalletjie Die Ekurhuleni-toerismeforum, ’n platvorm waar die private sektor en die munisipaliteit gereeld bymekaar kom om toerisme-aangeleenthede te bespreek, beloof dat dié metro ’n paar interessanthede by die vakansieskou te bied het.
Besoekers sal onder meer ’n luislang van ’n reptielpark kan vashou, kan kyk of hulle ’n goue staaf kan optel by Refentse Mining – wat ondergrondse toere in werkende myne aanbied – en verfbal na teikens kan skiet.
Inligting sal ook beskikbaar wees oor die OR Tambo-toerismeroete, wat ’n besoek aan die lughawe, die OR Tambo-museum (Oliver Tambo se voormalige woning in Wattville, net om die hoek van Samora Machel se vorige woning), Tambo se graf en monument, asook ’n besoek aan Carnival City insluit.
Die forum is besig om nog roetes te ontwikkel in die suide (Germiston, Alberton, Boksburg en Thokoza), die ooste (Benoni, Nigel en Springs), en die noorde (Kempton Park, Edenvale en Bedfordview). Inligting hieroor sal ook by hul stalletjie beskikbaar wees, asook gratis boekies oor hoe om jou eie restaurant, akkommodasie-eenheid of toeroperateursonderneming te begin.
Vind by die Ekurhuleni-toerismeforum se stalletjie uit hoe om te bespreek vir ’n ondergrondse myntoer.
Eerste kamp by Naukluft
Geen tafelgesprek is volledig sonder staaltjies en verhale van ervarings en wedervaringe in Namibië nie.
Gereelde besoekers sal bly wees om te hoor geriewe in Etosha word opgradeer as deel van dié park se eeufeesvieringe wat nou al byna vir ’n jaar aan die gang is en tot in Maart sal duur.
Nog een van Namibië se gewildste toeristebestemmings, die Namibwoestynpark wat nou bekend staan as die Namib-Naukluftpark, waarvan Sossusvlei deel is, is in 1907 geproklameer. Dié wildlewereservaat beslaan 50 000 m² en daar is beperkte ruskamp- en rusoordgeriewe.
In Junie verlede jaar is die eerste lodge wat ooit in die Namib-Naukluftpark gebou is, die Sossus Dune Lodge in Sossusvlei, geopen as deel van die eeufeesvieringe. Dié eko-vriendelike fasiliteit het ’n uitsig oor die Sesriemkloof en bestaan uit 25 rondawels. Daar is ook ’n restaurant, kroeg, ontspanningsplekke en ’n swembad. Die oprigting van die lodge in Naukluft beteken dat toeriste Sossusvlei nou voor sonop kan bereik en tot sononder daar kan bly voor hulle hoef terug te keer na hul verblyfplekke.
Die Namibië-toerismeraad het ’n stalletjie by die Beeld-vakansieskou. Kontak hulle by 0 011 785 4626 of 0 021 422 3298. Besoek ook www.namibiatourism.com.na.
Desert Camp by Sossusvlei, net buite die ingang na die Namib-Naukluftpark. Daar is onlangs ook ’n eerste kamp binne die park bekend gestel.
Haak bak vir plek
Weca, waarvan die maklike aanhaak-bak al baie gewild is onder vakansiegangers, is weer vanjaar by die vakansieskou. Dié keer wys hulle drie modelle: die standaard-bagasiebak, ’n honde-vervoerbak met lugventilasie wat toegemaak kan word as jy dit vir bagasie wil gebruik, en ’n geïsoleerde bak wat as verkoeler op visvang- of jagekspedisies gebruik kan word. Dié boks kan ys vir drie dae koud hou en vleis kan vir vier dae lank gevries bly. Of jy kan 274 kannetjies bier en ys daarin vervoer.
Maar sien is glo, so maak ’n draai by Weca se stalletjie by die skou of besoek www.weca.co.za.
Wen ’n sleepwa Besoekers aan vanjaar se Beeld-vakansieskou staan die kans om ’n kampsleepwa ter waarde van R140 000 te wen.
Besoek die Caravan & Outdoor Life-tydskrif se stalletjie (N8) en teken in op dié tydskrif om in aanmerking te kom vir die prys. Die prys, ’n Fleetwood Evolution 1, kan selfs in die veld gesleep word, is 750 mm van die grond af en kan dus deur riviere, sand of bos gesleep word. Die as is so ontwerp dat hoe swaarder die wa gelaai word, hoe meer bly die wiele teen 90° van die onderstel. Die binnekant van die sleepwa is ruim en daar is ook ’n buitedek met pakplek vir al die groot speelgoed wat moet saam. Die E1 sal te sien wees by die tydskrif se stalletjie.
Dié sleepwa kan gewen word by Caravan & Outdoor Life se stalletjies.
Leer Wildekus te voet ken Die Oos-Kaap het seker van die mees ongerepte toeristebestemmings in die land en veral stappers wat nie sissies is nie, kan kies en keur uit ’n verskeidenheid roetes.
Maak seker jy mis nie Wild Coast Holiday Reservations ( www.wildcoastholidays.co.za) se stalletjie by die vakansieskou nie. Dié private besprekingskantoor is in die vroeë 1980’s op die been gebring om die Wildekus se oorde te help om met klante te kommunikeer omdat hul eie infrastruktuur swak was en telekommunikasie onbetroubaar was.
Vandag is die onderneming ’n onontbeerlike toerisme-agentskap in die Oos-Kaap. Die eienaars, Nita en Helen Ross, besoek gereeld die verskillende oorde en kan besoekers goeie raad gee oor byvoorbeeld fasiliteite en die toestand van paaie. Intussen het die onderneming ook sy dienste uitgebrei om besoekersinligting- en besprekings te hanteer vir natuurreservate, staproetes, bergoorde, permanente verblyf en konferensies. Van die staproetes waarvoor hulle besprekings hanteer, is Diaskruis, Drie Susters, Strandloper, Wildekus Pondo en die nuutste toevoeging – die Hole in the Wall-staproete. Dié yfdagroete sal jou oor strande, rivier-inlope, kranse en heuwels neem. As jy van stap én van skeepswrakke hou, is die Strandloperroete pasgemaak vir jou. Daar is sewe wrakke om te sien – van die Santa Alberto wat in 1593 gestrand het tot die SS Khedive wat in 1910 gestrand het. Die roete strek strandlangs oor 5 km vanaf Keimond tot Gonubie. By www.wildcoastholidays.co.za sal jy meer inligting kry.
Die Lady Grey-toerismevereniging (www.ladygreytourism.co.za) sal ook by die skou wees waar jy meer inligting oor dié Oos-Kaapse dorpie en sy geskiedenis te wete kan kom, asook van interessante plekke soos die Cape Vulture Sanctuary, die steil Jouberts-pas, die treinspoorlyn waar treine soms agtertoe en vorentoe moet maneuvreer om die pas op te kom en die ou sandsteenkerk wat uit 1913 dateer.
Daar is ook ’n stalletjie vir Tenahead www.tenahead.co.za, ’n luukse vakansieplek in ’n afgeleë deel van die land waar die Drakensberge, Witteberg en Malutiberge bymekaarkom.
Mosambiek lyk deesdae anders
Ina Schaum
Ná ’n onstuimige tydperk van meer as twee dekades van opstande en oorloë word Mosambiek met sy ongerepte lang kuslyn aan die warm Indiese Oseaan in ’n onlangse reisartikel in die gesaghebbende The New York as een van Afrika se opkomende sterre beskryf.
Dit is die land se tweede probeerslag om hom as voorste vakansiebestemming op die vasteland van Afrika te vestig. Baie Suid-Afrikaners kan die goeie vakansietye in die jare 60 en 70 waarskynlik nog soos gister onthou. Dit was in die dae voor vryheidsvegters en regeringsmagte slaags geraak het en ’n burgeroorlog uitgebreek het. Destyds was spotgoedkoop vakansies daar moontlik. Dié keer wil die Mosambiekse regering glo fokus op die vestiging van meer intieme luukse oorde.
Daar is reeds heelwat vordering gemaak met die opgradering van sy hoofverbindingsroetes van die suide na die noorde. Verskeie buitelandse maatskappye, onder meer van Suid-Afrika, het reeds die geleentheid aangegryp om sulke luukse vakansieoorde en die nodige infrastruktuur daarvoor te ontwikkel. In die hoofstad, Maputo, lyk die strate deesdae anders en wolkekrabbers het reeds plek-plek verrys. Maputo se bedrywige naglewe kan in sommige van dié geboue opgespoor word. Boetiekhotels is ook besig om een-een te verrys. Van Suid-Afrika se bekendste eiendomsagentskappe en -makelaars is flink besig om van die oorde wat nog in wording of op die beplanningsboeke is, onder meer as fraksionele vakansiebeurtbeleggings te bemark. Reisagentskappe staan slaggereed met allerlei vakansiepakkette om toeriste na die land te lok. Die goue reël is steeds om jou vakansiesake slegs deur maatskappye, reisagentskappe en ander operateurs van naam te laat doen.
Besoekers kan gerus ’n draai by Mosambiek se amptelike tentoonstelling op Beeld se vakansieskou gaan maak. Of besoek ’n gepaste webwerf soos www.mozambique.oisafrica.com vir safari- en seevakansies.
Dié ‘beast’ gaan oral
Die “beast”, soos daar liefderik na die Kavango-woonwa verwys word, gaan vanjaar sy verskyning by die vakansieskou maak.
Dié woonwa, die breinkind van Willie Grobler, ’n voormalige lugvaartingenieur en eienaar van Echo 4x4 Centre, is laat verlede jaar bekend gestel en is die eerste woonwa wat ontwerp is om op alle terreine gesleep te kan word. Volgens Grobler was die uitdaging om ’n woonwa te ontwikkel wat sterk genoeg is om oor die slegste denkbare terreine te kan “gly”, en terselfdertyd vyfster-verblyf te bied wanneer jy jou bestemming bereik. Ná ’n ontwikkelingstydperk van twee jaar is ’n paar van die kenmerke van dié swaargewig sy 1 050 kg; alle binnepanele wat aan die buitedop vasgegom is en dus buigbaarheid verseker; ’n stort wat na buite oopmaak sodat daar nie modder in die woonwa ingetrap word nie; ’n standaard toegeruste 220V- of gas-geiser; ’n ingeboude batterylaaier wat ’n 70 amp-battery teen 25 amps kan laai; ’n 80 liter-yskas, brandblusser, wasbak met warm- en kouekrane en droograk aan die voorkant van die woonwa – met toegang na die yskas ook van die binnekant af. En om duursaamheid te verseker, is die gebruik van klinknaels, boute en skroewe tot die minimum beperk.
Die Kavango is streng getoets vir stofdigtheid, stewige vaste deure en rakke en bestandheid teen waterlekkasies, krake en verwering teen hoë spoed sowel as in die veld. Die woonwa het ’n sterk struktuur en bakwerk. Maak ’n draai by Echo 4x4 se stalletjie of besoek www.echo4x4.co.za.
Ontdek mooi Zoeloeland Ina Schaum
Zoeloeland is waarskynlik vir baie van ons net ’n naam op ’n kaart.
Maar bring ’n mens so ’n tydjie op die webblad www.visitzululand.co.za deur, begin jou kop in daardie rigting dink as ’n sterk kandidaat vir ’n volgende vakansiebestemming.
Afhangende van wat jou behoeftes is, kan dit ’n bedrywige of ’n rustige vakansie wees. Dit lyk na ’n prentjiemooi land van valleiwoude, rollende graslande en riviere wat daardeur kronkel. Dit is ryk in diversiteit betreffende sy fauna en flora en daar is ’n skrille kontras in die lewenstyle van sy inwoners. Die infrastruktuur is modern en doeltreffend, maar neem jy afdraaipaadjies kan jy by plekke beland waar dit lyk of die tyd gaan stilstaan het en mense nog lewe soos in toeka se dae. Zoeloeland het ’n ongerepte kusstrook van 42 km, bekend as die Siyaya-kuspark, wat in die noorde van die uitmonding van die Umlalazi-rivier in die see strek tot aan die suidelike grens van die Amatikulu-natuurpark verder suidwaarts.
Benewens laasgenoemde natuurpark van 1 700 m², is die Umlalazi-natuurpark van 1 028 ha, die 50 jaar oue Twinstreams-bewaringsentrum waar leerlinge meer oor die natuur geleer word, asook The Prawn Shack-restaurant deel van hierdie kuspark se hoogtepunte.
Wat ook na ’n moet lyk, is ’n rit op ’n trekboot op die Umlalazi-rivier. Verskillende ritte is beskikbaar, soos die een wat ingestel is op die verkenning van die gebied se voëllewe, die ander so teen skemer met ’n drankie in die hand, en ’n ander waartydens dinge baie jolig kan gaan en selfs vleis gebraai word. Daar is ook museums waar ’n mens meer oor die geskiedenis en tradisies van die Zoeloe-mense kan leer, hoe die konings van ouds geleef het, die onluste en oorloë wat die land geteister het en hoe die Zoeloe-koning Cetshwayo aan sy einde gekom het in die Zoeloes se nederlaag teen die Britse soldate in die Anglo-Boereoorlog.
Terwyl jy in die gebied is, besoek gerus ook die St. Lucia-vleilandpark, ’n wêrelderfenisterrein. Daar is watersportsoorte te kies en te keur, op varswaterriviere of op die oop see. Dit sluit natuurlik visvang in. Aan staproetes het dié strook klaarblyklik ook geen te kort nie. Van bekostigbare verblyf in ’n tent, woonwa of Zoeloe-hut tot luukse akkommodasie in gastehuise is beskikbaar.Vir meer inligting, besoek die uMlalazi-toeriste-vereniging se stalletjie by Beeld se vakansieskou wat tot Sondag by Gallagher Estate gehou word.
Roetes vol pragplase, wyn Stellenbosch, die naasoudste dorp in Suid-Afrika wat in 1679 deur Simon van der Stel gestig is, is die tuiste van een van die wêreld se mees gesogte ou wynroetes. Die dorp is ook ideaal geleë vir besoekers wat hul vakansie op die Kaapse wynroetes wil deurbring.
Die Stellenbosch-wynroete lei na meer as 100 oop kelderdeure en sommige van die beste pryswennerwyne.
Van die plase is deur geslagte heen behou, maar beleggers vanuit die buiteland wat baie van dié plase koop en as hoogs professionele sakeondernemings bedryf, veroorsaak dat daar deesdae ’n gesonde kruisbestuiwing tussen wyn- en toerismekulture ontstaan.
Dié universiteitsdorp met sy enorme ou akkerboomlane weerspieël die land se geskiedenis in talle historiese geboue in die Nederlandse, Georgiaanse en moderne Victoriaanse boustyl.
Dinge om te doen in Stellenbosch:
- Bly in een van ’n groot verskeidenheid boetiekhotelle, gastehuise of bed-en-ontbytplekke.
- Stel die Stellenboschse cuisine op die proef by een van die vele restaurante en opelug-straatkafees wat wissel van formeel tot informeel.
- Trou in ’n wingerd.
Speel gholf by een van die drie top-gholflandgoedere.
- Gaan stap in die berge.
- Gallop jou stres weg op ’n perd en hou piekniek.
- Woon ’n verhoogproduksie of musiekaand by.
Neem die kinders na ’n dierepark.
- Gaan hengel.
- Ontspan in die Erfenis- of botaniese tuine.
- Ry 4x4.
- Gaan op ’n begeleide staptoer deur die dorp.
- Onthou om wyn te gaan proe en kombineer dit met ’n brandewyn-, kaas- en kosroete.
Besoek www.tourismcapewinelands. co.za of gaan maak ’n draai by die Kaapse Wynlande-stalletjie by die vakansieskou.
Alles oor vakansies by skou Of jy nou in Lesotho se berge wil slaap, op ’n boot in Knysna of in ’n superluukse hotel in Doebai, jy sal gewis by Beeld en Holidaymakers Expo se vakansieskou iets vind wat in jou vakansiesmaak sal val.
Die vierde Beeld-vakansieskou word van 15 tot 17 Februarie by Gallagher Estate gehou. Daar sal ongeveer 300 uitstallers wees met elke vakansieproduk waaraan jy maar kan dink – van boemerangs, sleepwaens, woonwaens en kampeertoerusting, tot inligting oor nasionale en internasionale toere en akkommodasie.
Baie van die uitstallers sal spesiale aanbiedinge en kompetisies vir skougangers aanbied. En moenie die groot prys vergeet nie – ’n Jurgens-Ci-woonwa wat in die skattejagkompetisie wat die afgelope paar dae al in Beeld aangebied word, gewen kan word. Onthou om jou inskrywingsvorm vir die skattejagkompetisie saam te neem skou toe want almal wat wil deelneem, moet die spesifieke borge se stempels kry. Sodra die vorm voltooi is, moet dit by Beeld se stalletjie ingegee word om in aanmerking te kom vir die pryse. Die trekking van die pryse sal Maandag 18 Februarie plaasvind en die wenners sal dan telefonies in kennis gestel word. Die beoordelaars se besluit is finaal en pryse kan ook nie vir kontant omgeruil word nie.
Die volgende is van die pryse wat te wen is: ’n Woonwa van Jurgens; gratis verblyf, ’n wildrit en ’n bootrit van Banghoek Lodge en Gazebo Safari Lodge in Mpumalanga; ’n staalsleepwa van Jurgens Steelworx; ’n nuwegenerasie-GPS van Bolton’s GPS Warehouse; sewe dae se gebruik van ’n motorwoonwa van Motorhome World; tente van Campworld; gratis kampeerplek in die Richardbaai-woonwapark, verblyf in Umvubu Lodge; ’n patiobraaier van Cadac; verblyf van Vea Hospitality by Hoedspruit Wildlife Estate, Tlou Lodge in Mabalingwe en Aldam Estate.
Op bladsy 16 en 17 is daar ook ’n vloerplan en lys van al die uitstallers. Skoutye is Vrydag 10:00 tot 18:00, Saterdag 09:00 tot 18:00 en Sondag 09:00 tot 17:00. Toegang is R30 vir volwassenes en R15 vir pensionarisse. Kinders van sewe jaar en jonger kan gratis ingaan. Besoekersparkering is R10. Vir meer inligting oor die skou, besoek www.vakansieskou.co.za.
JollyKids, wat kinderpartytjies reël en aanbied, sal gedurende die skou by die restaurant wees waar hulle kinders besig sal hou.
Nissan Patrol met véél meer Motorhome World stel vanjaar sy nuwe Discoverer X by die Beeld-vakansieskou bekend. Die nuwe model uit die Motorhome World-stal is gebou op die fris Nissan Patrol 4x4-onderstel. Jy sal die meeste van die voordele wat jy in ’n groot motorwoonwa het nou in dié volbloed- adrenalien-verpakte perd op vier wiele kry. Daar is ’n afsakdak wat die aantrekkingskrag-middelpunt laag maak sodat jy die voertuig se vaardighede ten volle kan benut. Die tweeslaapplek-motorwoonwa is uiters geskik vir die gebiede wat Afrika so uniek maak, maar waar jy nie met ’n normale voertuig kan uitkom nie. Van die voordele van dié wa is sy groot dieseltenk (175 liter), sterk maar liggewig glasveseldubbelpanele, standaardtoerusting soos ’n 60 liter/12-volt-kompressor, yskas/vrieskas, 90 liter-watertenk, kombuis met gasstoof en wasbak, 25 liter gas/220V-warmwatersilinder, warm- en kouewater-buitestort, twee spaarwiele, dubbelbed, draagbare chemiese toilet en lugversorging in die kajuit. En dit alles kry jy vir R453 587, belasting ingesluit.
Besoek www.motorhome-world.com of gaan loer in by die vakansieskou.
Kampkos is die lekkerste Cadac (Commercial and Domestic Appliance Company), ’n handelsnaam wat al sedert 1948 vertroue by verbruikers inboesem, sal van hul kampeerprodukte by die Beeld-vakansieskou uitstal. Een hiervan is die Safari Chef, ’n kampeerstoof wat vele opsies bied. Dié stoof kan gebruik word van water kook en koffie brou tot om vleis te braai. ’n Mens kan dit selfs as ’n oond gebruik om kos in te rooster en jy kan die wok gebruik vir roerbraai of om souse en pastas in te maak. Die omkeerbare rooster is ook ideaal vir pannekoek, eiers en selfs vleis en groente. Al wat jy nodig het om enige van dié funksies te verrig, is om die regte onderdele en bybehore te gebruik.
Vir meer inligting, kontak hulle by 0 011 473 8600 of besoek www.cadac.co.za.
’n Pêrel van ’n plek Die “Pêrel van die Wes-Kaap” is nie net bekend vir sy wynroete en van die bekendste wynplase nie. Paarl bied ook vir besoekers die naasgrootste granietgebied in die wêreld en dis aan een van dié groot granietkoppe op Paarlberg wat die dorp sy naam te danke het.
Die Koi en San was die eerste mense wat die gebied bewoon het en daar is steeds San-rotskuns naby Wemmershoek en Bainskloof te sien. Paarl is die derde oudste Europese nedersetting in Suid-Afrika en dié dorp op die oewers van die Bergrivier bestaan vandag uit ’n diverse kulturele gemeenskap. Een van die dinge wat die dorp sy unieke karakter gee, is die feit dat daar steeds wingerde in die woongebiede is. Vir gholfentoesiaste bied die Paarl van die wêreld se beste gholfbane, soos Pearl Valley en die Boschenmeer-gholflandgoed.
Naas toeriste-aantreklikhede soos staproetes, wynroetes en uitstekende restaurante is daar ook verskeie groot landbou-, vervaardigings- en finansiële hoofkantore, wat van die Paarl die grootste dorp in die Kaapse wynlande maak.
As jy van plan is om binnekort in die Paarl te gaan speel, eet, drink of bly, besoek gerus Paarl Toerisme se stalletjie by die vakansieskou waar inligting oor dié historiese dorp en sy wynplase beskikbaar sal wees, asook inligting oor die Drakensteingebied.
Vir meer inligting, besoek ook www.paarlonline.com.
Talle reservate in Noordwes Noordwes beskik oor verskeie natuur- en wildreservate waarvan baie mense nie eers bewus is nie. Ongelukkig word net Madikwe by die vakansieskou verteenwoordig, maar besoek gerus die Noordwes-parkeraad se webwerf www.tourismnorthwest.co.za om meer uit te vind oor die ander reservate by Barberspan, Bloemhofdam, Borakalalo, Boskopdam, Botsalano, Kgaswane, Mafikeng, Molopo, die Lombard-natuurreservaat, Vaalkopdam en Wolwespruit. Madikwe is Suid-Afrika se vierde grootste natuurreservaat waar die groot vyf aangetref word en boonop is die gebied malariavry. Die reservaat word as ’n gesamentlike onderneming bedryf deur die Noordwes-parkeraad, die toerismeraad, die private sektor (verteenwoordig deur verskeie lodge-eienaars) en die plaaslike gemeenskappe. Dié belangegroepe wend saam ’n poging aan om ekologiese volhoubaarheid en ekonomiese aktiwiteit te stimuleer wat gegrond is op wildlewe en tot voordeel van die mense in die omgewing kan strek. Madikwe word beskou as een van die beste bewaringsgebiede in Afrika. Die private lodge The Bush Camp (www.thebushcamp.com) sal ’n stalletjie by die skou hê waar daar meer inligting oor dié besondere reservaat beskikbaar sal wees.
Die gewilde ATKV-oord by Buffelspoort in Noordwes sal ook verteenwoordig wees by die ATKV-stalletjie. Dié oord het nie veel bekendstelling aan Gautengers nodig nie, maar vir dié wat nie weet nie: Die oord is gerieflik naby aan verskeie toeristebestemmings geleë om daguitstappies daarheen te neem soos die Pilanesberg-natuurreservaat, Hartbeespoortdam, Buffelspoortdam en -bootklub, geskiedkundige slagvelde, Lesedi, Sun City en die Lost City, die Duitse dorpie Kroondal en die Magaliesberg-natuurreservaat. Verblyf by die oord sluit ’n woonwapark in wat deur Caravan and Outdoor as een van Suid-Afrika se toptien woonwaparke aangewys is, standaard- en luukse rondawels en woonstelle – almal met TV met sewe kanale en ’n ten volle toegeruste kombuis – asook tenthuise waarvan sommige ’n gemeenskaplike kombuis deel.
Vir meer inligting besoek http://www.buffelspoort.co.za.
Skou bied álles vir jou vakansie
Beeld se Vakansieskou, in samewerking met Holidaymakers Expo, word van 15 tot 17 Februarie op die Gallagher-landgoed, Midrand, gehou. Ongeveer 300 uitstallers bied ’n groot verskeidenheid vakansie-opsies en avonture aan. Die Vakansieskou word vanjaar vir die derde keer aangebied. ’n Mens kan inligting kry oor oorde, toerisme-dienste, toerusting en bykomstighede vir vakansie. Vanjaar se skou het meer uitstallings as in die verlede.
“Besoekers sal talle opsies kry oor plekke naby en ver. Die Vakansieskou het iets vir almal,” sê Gavin Rheeder, bemarkingsbestuurder van Beeld. “Die grootste aantrekking is dat ’n mens ’n vakansie goed kan beplan. As jy die skou bywoon, kan jy vroeg reeds aan jou vakansie begin beplan en kan jy bekostigbare vakansie-opsies kry.” Produkte sal ook op die skou bekend gestel word en heelwat pryse is in die spel. Die waarde van die hoofprys is sowat R100 000 – ’n Jurgens-Ci-woonwa wat toegerus is deur Howling Moon en Campworld.
“Beeld-lesers kan voordeel trek omdat Beeld aan hulle inligting verskaf oor wat aangebied word lank voordat jy deur Gallagher se hekke loop,” sê Rheeder. “Een van die grootste voordele is dat Beeld se Vakansieskou gehalte-besoekers lok wat tot goeie verkope lei.”
Die skou maak dit vir verbruikers moontlik om honderde vakansiebestemmings en -aktiwiteite onder een dak te besigtig. Dit wissel van kampering, woonwaens, 4x4-uitstappies en safari’s tot kusoorde en oorsese reise. Daar is reisbykomstighede, verblyf, wiele, aktiwiteite, publikasies, klubs en dienste. Boonop kan ’n mens amper enigiets wat met vakansies verband hou op die skouvloer koop. Besoekers kan ook inligting kry oor aktiwiteite soos warmlugballonritte, casino’s, voetslaanplekke, bergklim, voëlbesigtiging, dieretuine, kultuurdorpies, parke, botaniese tuine, treinreise, safari’s, gesondheid en skoonheid, plekke om inkopies te doen en meer.
Vakansiedienste soos toeroperateurs, nasionale parke en toerisme-owerhede (internasionaal, nasionaal, streek en plaaslik) sal verteenwoordig wees. Toerisme-owerhede sal inligting oor vakansiebestemmings verskaf. Internasionale bestemmings is verteenwoordig. ’n Mens kan toer- en verblyfinligting oor al dié bestemmings op die skou kry. Inligting oor plaaslike en internasionale oorde, lodges, wildreservate, tyddeel-opsies en gastehuise sal uitgestal word. Meer inligting oor publikasies en klubs wat met vakansies te doen het, sal hier verkry kan word.
Vir diegene wat graag kampeer, sal “huise op wiele”, woonwaens en ’n groot verskeidenheid sleepwaens besigtig kan word. Toebehore soos kampeergereedskap, tente, 4x4-toebehore, vakansieklere en -speelgoed sal ook hier gekoop kan word.
Die skou is Vrydag 15 Februarie van 10:00 tot 18:00; Saterdag 16 Februarie van 09:00 tot 18:00; en Sondag 17 Februarie van 09:00 tot 17:00 oop. Toegang is R30 (volwassenes), R15 (studente en pensioentrekkers) en gratis vir kinders onder 7 jaar. Besoekersparkering kos R10.
Woonwa-wenner sê: ‘Jy sal nie glo hoe bly ek is’
Lauren Thys
Mnr. Willie Cronjé van Alberton kan deesdae met rede breed glimlag: Hy is die eienaar van ’n nuwe Gypsy-woonwa wat hy op die Beeld-vakansieskou gewen het. Cronjé (54) se inskrywing is uit honderde ander hoopvolles getrek. “Jy sal nie glo hoe bly ek was nie,” het hy gesê.“Ons wou al lank ’n kleiner woonwa hê, maar omdat dit so duur is, moes ons eers wag.” Hy en sy vrou span gereeld naweke uit in Kareekloof, naby Alberton, en durf in Desember die lang pad Namibië toe aan. Cronjé is deel van die bemarkingspan by Karan Beef in die middestad. Hy kry die woonwa later vanjaar tydens ’n spesiale oorhandigingsplegtigheid.
Ander wenners by die vakansieskou:
- Cadac Patio-braaier: Gerry Vermaak
- 4 nagte midweekwegbreek by Aldam Estate: Roger Jacobs
- 4 nagte midweekwegbreek by Tlou Lodge: Vitto Labuschagne
- 4 nagte woonwa-staanplek by Hoedspruit Wildlife Estate: Elize Greyling
- Ossewarit vir 4 mense: Gert Brits
- Naweekwegbreek by ATKV-oorde: Frik van Niekerk, Johan van der Walt, George van Straten
- Kampeerplek by Richardsbaai-woonwapark: Louis Fourie, JJ van Niekerk, Maryna de Jager
- Naweekwegbreek by Imvubu Lodge: Mark van Wyk, Maryka Coetzer
- Nova Bush Cottage-tent en komplimentêre toilet-tent: Hannes Adlam, Stephan Botha, Izelle van der Poel
- GPS van Bolton’s GPS Warehouse: Sandra van der Merwe
- Jurgens Steelworx sleepwaentjie: Karel Lewis
- Gebruik van ’n mobiele woning van BOBO Campers and Motorhome World: Etienne Allers
- 2 aande se verblyf en etes by Hlhluwe Game Reserve: Paul van Schalkwyk
- 2 aande se verblyf en etes by Banghoek Lodge: Wilna Steenkamp
| ABOUT | CHOOSE A STAND | STAND RATES | TESTIMONIALS | MARKETING | MEDIA | ONLINE APPLICATION | TERMS & CONDITIONS | 2010 REPORT || |